'n Vreemdeling het my pad oorkruis.
'n Middeljarige bouer,
dienswillig met sy uitgebreide stel gereedskap
om sy brood te verdien.
Die brokkies van sy legkaart ontvou:
… het sy werk verloor,
… onlangs sy kar gerol
en sy nek gebreek.
… is geskei,
… van sy familie vervreemd,
… sy ouers is uiteen,
… dwelms het met hom die vloer gevee,
en drank sy organe verniel.
… twee beroertes, twee hartaanvalle.
O ja, daai motorfietsongeluk:
jare terug — beide femurs gebreek,
kakebeen vergruis, en so aan.
… en verlede week,
ontsteking van sy pankreas,
krul hy van die pyn;
en vandag: geen kar, geen huis.
effe oorweldig.
En dan ook, sy lang lys van medikasie …
vir pyn, vir bloeddruk, cholesterol,
gemoedstabilisering, bloedverdunner, …
Hoe gaan hy ooit vrede vind
met al die vlamme en rukwinde om hom heen?