Dertig Jaar Of Wat Gelede


Met Pa se afsterwe:
die ou fieterjasies in sy kamer;
'n vloed van sentimentaliteit
sweem om al die besittingtjies
as oorgeblewe herinneringe.

Met sy gees verkas,
vaar sy sielsgevoel
nou dié goedjies in.
Ons wil almal vashou
aan als wat "Char" s'n was,
as't ware 'n naelstring konneksie met hom.

Nou, met moeder
wat dié dag sien kom –
gaan ons dieselfde deurmaak?
… en vashou aan haar dingetjies
om haar heengaan te streel?

Tog koester ek nog net 'n enkele dingetjie van my oupa
… en dan nog daai beeldjie van Tannie Laura.

En van die geslagte voor hulle?
… net gedagtes en 'n paar goeie stories.
En wat gaan my nasate
eendag van my wil koester?