Daai dag gaan hulle ruk.
Die besef gaan hulle tussen die oë tref.
Nooit weer gaan ons hom sien nie.
Nooit weer gaan ons van hom hoor nie.
Sy lyf se reuk in sy trui en in sy jas
sal nog talm
en jou senuwees prikkel,
en jou terugvoer na 'n vergange verlede.
En sy goedjies?
dié gaan
óf uitgedeel
óf weggegooi word.
Vir my is die streep nou getrek.
Die finaliteit:
nimmer meer sal ek weer kan skryf,
nóg dig,
nóg kan teken of kan verf,
nóg 'n liedjie komponeer
of iets sing.
Ek wou nog my jammer sê.
Vir jou wou ek nog spesifiek
van aangesig tot aangesig sê,
"Ek is lief vir jou".
Maar, … ek het nie.
En ek wou nog ander
te hulp snel met my tyd,
my talente, my geld
en my netwerk.
Maar, … ek het nie.
As nuweling is ek nou geskaar
by die kader-van-die-vergangenheid.
Net my nalatenskap
in skeppende werke
en as gevoelens,
en my mensgevoel impak
leef nog voort;
— miskien vir dae,
— of weke;
en vir sommiges
— selfs maande
— of jare,
en in seldsame gevalle
— 'n dekade of wat,
of, wonder-bo-wonder,
— oor die eeue heen.