Die Kasregister


My visie was gevul
met die volle verwesentliking
van my talente en vele drome.
Al my verwagtinge
was toegeknoop en opgesluit
toe my ondersteuningsraamwerk weggeneem was.

Wie het gevra vir angs?
Wie smag na desperaatheid?
Wie koester ontvangs van felle kritiek?
En wie verwelkom verlatendheid?

Ek moes.
… as maar net nog 'n behoeftige,
met my hoed ter hande, desperaat in my smeekbede.
Enige werk, asseblief tog —
énige werk.

Dis hoe die kasregister my klavier geword het
en ek uiteindelik die pianis.
… elkeen met sy dingetjies te koop …
"Hallo, R50.50 asseblief, dankie."
"U kleingeld, totsiens."

… Al was die werkie geen loopbaan nie,
sê ek dankie.

Dankie vir die kans om vele te kon ontmoet, oor en oor.
Dis toe ek intens in smeekgebed my na Bo gewend het.
Mag ek 'n bron word:
'n bron van begrip
'n bron van ondersteuning
'n bron van geloof
'n bron van hoop
'n bron van liefde — iemand wat innig luister,
om elkeen 'n kans te bied om waardig te voel,
gewaardeerd en geken.

Dankie vir die kasregister.