Die Komeet


Die winterstorm woed.
Hoe lank nog?
Sou jy die rolprent kon versnel,
is dit wit, kleurvol, lower, roes,
dan weer wit, kleurvol, lower, roes;
oor en oor.

Die skoolverlaters staan bo almal
aan't koningkraai
in hul kortstondige 'ewige' senioriteit.
Nog 'n jaar, nog 'n klas;
oor en oor.

En ek en jy?
Ons voel so vas en gevestig;
as kind, as tiener,
as student, as pa,
as oupa … en skielik dan …

Jy's net 'n verskietende ster
daarna jou impak:
'n uur, 'n week, 'n geslag?

Dis nie oor nou nie,
maar die komeet se stert,
en die nou bepaal die stert.