'n Geurige stomende potensiaal met stewige handvatsels
maak dit maklik
om dié watertand
in ons midde te plaas.
So wens ek daar was handvatsels
aan jou siel
dat ek bedagsaam
jou kon indra
tot in midde van ontferming.
Alhoewel jy opvou, afsluit,
wegkeer, toemaak en al daai
vorms van inkeer en terugtrek vasgryp,
weet en voel jy nie
die gretigheid in ons,
om jou deksel te lig;
want elkeen van ons vind jou geurig uniek;
poog om jou te herinner aan die intieme smake
en die lieflike konneksie met jou.
Individueel is ons verknog aan jou geestessierade,
en hoop dat die oorweldige lojale bevestiging
jou die sleutel sal bied,
om oop te vou,
oop te sluit,
oop te maak
en ons omhels te verwelkom.