Uit bekers van lag en sing
besprinkel ek druppels
van my selfvoldane geluk
oor die armes heen;
mik ek pretensieus
na vuil gebakte handjies
met 'n paar blinkes uit my beurs.
Die Gesalfde Kroonprins
is mos my vriend,
en ek lag weer —
want ons mag nie huil nie.