Die Oumanpad


As kind al
het jy in jou gemoed
beleggings gemaak,
dat jou oudag oukei sal wees,
dat jy 'n lekker lang somer sal hê,
opgevolg deur 'n pragtige, kleurryke en rustige herfs,
gevolg deur 'n sierlike winterryp
(want dis mos onvermydelik)
wat jou kwansuis kortstondig sou plattrek
en met 'n meegaande winterbries
jou liggie doof.

Die oumanspad is soms
'n lang, lang winter,
wat jou nie wil vergewe, of laat gaan nie;
of 'n herfs sonder blare, met veldbrande,
of 'n somer van sweet en droogte,
of 'n lente sonder bloeisels en bye.

Ag, en sommigetjies sien nie eens die lente deur nie,
gekome en gegane sonder herhinneringe — ontslape sade.

"Luister, gee maar my kierie en pyne terug,
… kom, kom, laat ons maar aanstap."