Die Planter


Die uitgestrekte takke
van die akkerboom –
dik en ruig,
oordek in 'n groen van smarag.

Die anker van vrede, lafenis en koelte,
bied jou die saamgekoer van intiem-tevrede duifies
en 'n koel briesie om die oomblik af te rond.

'n Ou man, met die kierie op sy skoot,
het reeds genoeg gerus;
tog sit hy nog met graagte
om die volheid van die oomblik in te adem.
Ingedagte en glimlaggend staar hy
na die kinders op die swaaie,
die kuierende mammies
wat mekaar gretig beluister;
en dan begin sy gedagtes vloei …

Die ou boom strek sy arms van koelte
ver oor driehonderd jare heen.
Die planter se daad seën voort
met sy gevestigde omgewingsidentiteit,
as uitkykpos vir die uile snags,
as seintoring vir die duiwe bedags,
en as eeue-oue raathuis van die eekhoringkies.

Fier troon sy silouet as stille getuienis
van geslag op geslag
se kom — se vertoef — en se gaan.
Hier is en word alles,
benullig of belangrik,
geneem, gedeel, en gegee
— onder die statige wolkekrabber van die natuur.