In die traagheid van die dag,
met eensaam versteende koeltevlekke
wat oor die leë vlaktes strek,
het 'n grenspatrollie om hulp gewag.
… maande
van skietkuns,
oorlewing,
veldkuns,
en kamoflering.
Dié opgeboude, opgekropte veglus
is met 'n landmynslag ontlont.
Watter beskawing het die haat geplant?
… 'n vriend se lewe
word in diens geoffer …
My moeë makkers
het sy oorskot
skadukant gesleep.
Bitter bloed het dié laat-agtermiddag
die gawes van durf en moed
in ons subbestaan geyk.