Openlik die visie —
as jy God se pad kies
is als vol lig, liefde, en lowergroen.
As jy van God keer,
is jou pad besaai met duwweltjies,
duisternis en dwaling.
Maar wat dan
van daai vrats?
… skielik is hy weg.
Ons, emosioneel geteister
en sy gesin finansiëel platgetrek.
Die verwoesting, die wreedheid
van oorlog en sy euwele ontberinge,
van die gelowige en godlose —
pyn is pyn, honger is honger.
Maar dis in die moontlikheid van letsels,
en die verwerking van trauma,
dat die genesing van jou siel
joune word.
en jou rol, en dié van ander …
in die optel van skerwe, joune word;
Dís waar jou geloof, jou hoop,
en jou liefde
die bitterheid moet oorwin.
Met geduld, want jy weet
jy het die mag tot 'n ander keuse.
'n Keuse buiten die hel van bittere gedagtes,
die ewige ontnugtering, die permanente
geslotenheid en die ewige vasbrand.
Kies liefde, kies genesing;
jy kan weer hoop, jy kan.