Dis Tyd


Pas gehoor: 'n klasmaat oorlede.
Ons lot — almal in ons sestigs,
en statisties op die kurwe
wat nou eksponensieël styg.
… en êrens op dié kurwe
gaan ek ook afklim.

Sjoe! Dis tyd vir wikkel en woeker —

Dis tyd vir dankie sê,
vir vrede bou,
geskille besleg,
en die liefdevol in my,
aan te gryp en uit te leef.

Nou is nóú –
braaf prioriteite rig:
glimlagte uitdeel,
'n luisterende mens word,
en te vergewe – mildelik, met groothartigheid en oorgawe.

Dis tyd vir jammer sê.
Dis tyd om andere te seën
met my daarwees,
my talente,
vermoëns,
en ontferming.

Want op die laaste dag (wanneer dit ook al sal wees),
wil ek heengaan
met 'n hart vol vrede en liefde,
met genesing in my gemoed
en berustend
vir die lewe hierna.