Ek Wil Jou Leer Loop


Nou dat jy lê, krul, kruip
en worstel;
breek jy,
en trek jy alles van die tafel af.

Die porselein lê mooi in skerwe;
en elke keer
as jy omrol in stuwing
en trekking
SNY die werke van jou hand.

Jy's moeg, erg beseer — diep gewond.

Maar Pappa — asseblief Pappa …
Die potte sal stukkend bly lê;
jou bloedsmere sal ons opvee …
Jy móét loop! JY móét loop!

Stadig opsit
wonde lek …
Ons hande wag:
kalm, en sag.