En So Aan


Ek wens ek hoef nie; ek wens ek moes nie.
Ek wens dit kon anders gewees het.
Ek wens vermyding was moontlik,
om 'n ander pad te beleef …
gemik op die sagte, die heerlike,
die vreedsame,
… en so aan.

Maar dis nie wat is nie.
Sake is versteur,
dinge deurmekaar,
die wiele het afgekom,
… en so aan.

My gestel is in skok,
drome aan flarde,
en ek wil wegvlug, terugdeins,
onttrek,
… en so aan.

Dit gaan nie oor
rustig, lekker en mooi nie.
My gemoed is oortrokke
met ontnugtering, verbystering,
en teleurstelling - toegedraai
in pyn, wroeging,
weerstandigheid,
… en so aan.

Dit bring my tot stilstand
met onrus en desperaatheid
wat my van alle kante kneus.
Tog, iets dieper as
al die emosie en invloeiing
wat my oorspoel reg tot
om die ankers van my wese,
dié ritsel roer my aandag liggies;
net genoeg, dat ek waarneem
wat die oorweldiging stuit,
… en so aan.

Net die feit dat ek
my nie laat meesleur nie,
was my bewys
dat my wilsrol daar is,
hoe swak en onwillig ook al.
"Ek is fundamenteel omgekeer
in 'n nuwe rigting."
Toe kom die gawes
van geduld, aanvaarding,
geloof, deursetting,
… en so aan.

Ek is nog steeds rou-verstoor,
maar my desperaatheid
het 'n blaaskansie ontvang.
Ek kon 'n teugie vars lug inasem.
Ek kon bedaar.
Ek kon tot verhaal kom,
ek kon beaam wie ek is,
wat ek voorstaan, en van watter
stoffasie ek gemaak is,
… en so aan.

Ek het hoop.
Ek hou vas aan geloof.
En liefde laat alles sin maak.
Ek kan, en ek wil, en ek moet,
… en so aan.