Ons skree saam.
Niks gaan ons stuit nie!
Op die klimaks van gedrewenheid,
met 'n oormaat van durf en moed,
verbrysel ons die weerstand.
Verabsoluut staan ons saam,
Vas en beslote.
En nou is alle weerstand
'n verklaarde euwel,
om met die mag van ons histerie,
plat te vee.
Verplettering die doel —
visionêre verwoesters as jy wil.
Besope met die magiese mag van fanatisme
verabsoluteer ons — tot die dood toe!
Toe — oor die as, en letsels …
hang net vrae, spoke, en swye.
In skaamte skuil ons;
ontkennend bely ons disassosiasie (maar saggies),
en ons walg onsself.