Omvou in geloof
as volkie, versterk deur God
teen opposisie en aanslae.
Saam staan ons in gebede en gesange,
psalms en boekevat.
Manne en vroue in die Here,
liefdevolle ooms en tannies:
al my vriende se ma's en pa's,
soos my eie ooms en tannies -
saamgesnoer.
Dankie vir die Gelofte -
ons toewyding
in ons uur van bitter nood
- en toe, die verlossing.
Nou weer is ons onder druk.
Gesinne op die plase,
afgetrede ooms en tannies,
en selfs klein kindertjies nou nie meer:
- vernietig.
In 'n haatdraende hel
is hulle bloedig vergruis.
My geloof kom van moedersknie,
my liefde vir almal; geesgenote
met almal wat Sy verlossing aanvaar.
En nou? Wat nou?
Word ons deur wolwe verslind,
ons eenheid,
ons mededeelsame liefde
van samehorigheid is stil.
- elkeen verwilderd
- vereensaam.
Here, ons is swaar gewond,
ons gemoedere ly met harte in skok
ons drome
in flardes van trauma.
O Heer, ons mense is verwilderd
in gees;
verstrooi;
baie van ons
het afvallig geword.
Gedrewe en begeesterd
deur wellus en woede,
haat; en gierig na weelde.
Selfs gevoelloos, selfbehep
en op 'n eie pad.
Hoe gaan U kudde weer saamkom,
hoe kan ons weer
tot inkeer kom?
Is ons bestem om te kwyn?
Tog vul U gees my,
ek weet, ek weet.
Ons roeping tot Afrika
is in U hand -
Heer, nou is die tyd
om in ootmoed
terug te keer na U.
Dis nou ons tyd om
voor te berei
om U woord te verwelkom,
ons bondgenootskap aan
U te verklaar,
onsself hernu
en weer een te word.
Daar is hoop.
Daar is liefde;
daar is geloof.
Mag ons daarin herleef.