Die goeie gewoontetjies,
die projekte, die lysies,
die visualisering van prioriteite:
dis als nou tot niet —
dis laat-stadium kanker.
Die pad van pyn en kwyn,
sterk reuke omring my lewe,
die gedweep oor vashou— desondanks.
Komaan julle …
die gesprekke,
hierdie pad waarteen ek opgedruk word,
dis nie ek nie.
Dis julle:
julle reaksie,
julle verwagtinge van my,
julle aannames
op die antwoordlose wat kom;
die tyd is kort en dié pad beheer ons nie.
Kom ons gaan huis toe —
ek's ok met die pyn.
Gooi maar die pille weg — bak 'n lekker koek.
Bring my mense saam.
Gee mekaar die hand,
Dis tyd vir liefde;
'n laaste keer lekker sing.
Ek's reg om te groet
en my laaste dinge te doen
wat saakmaak.
Moet asseblief nie my my laaste wens ontneem nie.