'n Logge Stilte


Sy breë bedagsame hand
Sy stem, fors en kalm
is verlede tyd.

Die indruk van sy wese
gaan dieper —
verby sy logge lyf,
verby die onoorwinbare
fort van vlees
en die ooglopende
krag van sy gestalte.

Hy was 'n kremetart vir sieleskoelte,
die oasis van emosionele lafenis.
Van die deurtrapte spoorpad na hom,
loop jy weg met sakke gevul
met geloof.

Sy tyd was ons tyd.
Ons tyd was sy tyd.