Met Dank


Vandag voel die dag uitsonderlik-uniek.
Toe die knoop deurhaak,
het ek dit geglo: met opregtheid,
standvastigheid, getrouheid, toewyding
en bereid om aan te pas
- sal jou pad uiteindelik geseënd wees.

Ek, ingegooi in 'n vreemde realiteit.
My offer - ontoereikend.
Die beste wysheid - onwerkbaar.
Geluk, aanvaarding - onbereikbaar.
Geloof, hoop, liefde - onbeantwoord.

Voor my is 'n gees geslote:
'n hart afgewend, oë onverlig,
ore - net vir eie denke;
met 'n stem in luide grys, bruin en swart
omvat in vonke van rooi.

Die son het gesak;
ons weë uiteen.
Na alles: al die gebede,
al die hernude pogings,
al die ywer en
als in my vermoë -
… het ek berus.

Toe volg die tog na my binneste.
Die herbou - om my glimlag te herwin.
en uiteindelik is ek oor die rubikon
om 'n nuwe lewe te begin.

Toe stap 'n minsame engel in my lewe.
Bo wonder, hier is sy,
my gedagtebeeld as kind
van hoe lieflik dit sal wees.
Dis nou wat dit is:
My vreugdeskelk gevul.

Dankie Heer.