'n Afrikaner Affêre


Dis juis die Boer in ons bloed
wat ek uitken
op die moltrein in Parys
en die kitskoslyn in L.A.
— sy wuiwende mielieblaarhare
en die Bosveldsweet op sy voorkop
en so effe lomp, sy hartlike gretigheid.

"Man, dis so 'n gesukkel, die
verdomde vreemde tale."

Ja,
jy's 'n eie jou,
soos die Rus of Skot.
Gekerwe en gegote
in die lyne en vorms van Afrika.
En jou kleur
is van die Suiderson.

Europa en enig ander
bly maar 'n vakansieplek,
want die Boland,
die Vrystaat,
die Hoëveld
en die Bosveld
is ons manier van dinge doen;
en al is ons menings
koppig
en sterk gegeur,
is ons geen trop
vlugtende vlakvarke
wat willoos ronddwaal
en droogmaak nie.

My wese het ontkiem
uit diepgetrapte spore
en ons lot is in my weefsel, dit
sypel deur
my spiere,
sterk die murg in my gebeente
en
hang oor die stilte
van my gees.