Op My Soeke


Agge nee, ek voel teruggesit.
Die massas wie ek sien
en ervaar
- die kollegas, die bure
familie, bekentenisse, stadsgenote
landsgenote, vriende, en andere:
guur of onguur.

Hulle almal,
en selfs ek,
eis dat ons weet
waarvan ons praat.

Maar nou weet ek
- uit 'n leeftyd van ervaring
en noukeurige waarneming
- dis tweedehandse en derdehandse hoorsê
wat ons kwansuis
as reine waarheid verkwansel.

So, ingevoer dit wat ons wil glo
gedis as 'n verflansing
van aantygings beweringe en bespiegelings
gesluk deur goeie oortuigingsvermoë
van die oorverteller.

Was ons maar eerder bedag,
geduldig en rustig en traag
met die vorming van opinies
- was ons maar nuuskierig,
en effe meer skepties oor standpunte -
sou ons baie beter daaraantoe gewees het.

Ja, maar dis die mens.
Jou pad na waarheid
is kompleks
en verg besonderse vernuf.