Op 'n Steenkooldorpie


Op die dreigende sneeubedekte winter
van die steenkooldorpie se hange
het ek hom raakgeloop:
verweer, verontrus, verwese.
Met 'n hand van broederskap
het ek hom ingeneem
en sy noodbehoeftes bevredig.

Ons het saam gelag, nabetrag, gehuil
en hy het rustig geword.

Hy het weer begin werk;
ek as sy mentor, as sy broer, en as sy werkgewer.
Maar in die skuiltes van sy gemoed,
het nog steeds,
euwele gedaantes gekriewel en gewurm.
Sy geheime het hom weer verkneg,
en hy moes weer steel,
weer lieg, en weer intuimel.

Skielik weer weg, ... vir behandeling.
En almal hoop: dié keer, die soveelste keer.
bid ons - nou tot omkeer.