Uit 'n slagaartjie bloei die lewensvog.
Alles is afgeskaal.
Met kragvloei beperk tot die hoofraam,
neem 'n bekende eggolose met swye oor.
Berustend, geduldig, wys, tydsaam, stil.
Met hoe kort ek die lewenspaadjie ag
kon ek skaars toelaat dat
die passiewe gasheer wat ek is,
die deur durf oopmaak
vir die kille stille tyd.
Dis wel jare van vorming
waarop ek nou reken,
vir die wagtende, verwagting en afwagting —
op die ontvorming,
die hervorming
en eweneens die vervorming
waarmee ek die toon gaan aangee
as 'n toonbeeld
van juistheid, integriteit en moed.