Pappie,
vereensaam daar op jou plasie,
emosioneel buite bereik.
Soveel vrae;
en ons is almal,
oorstelp in diep nabetragting.
Onseker oor Pa se sterfdatum,
onseker die oorsaak —
die reuk van ontbinding
het vooruit die feit beaam;
en jou hondjie
het ons uitgehongerd ingewag.
Jou assies het ons daar gestrooi,
en elkeen van ons nagelatenes
dra 'n mengsel
van rouheid en tederheid.
Dit het my 'n jaar geneem
voordat die onwillekeurig
spontane gesnik getem is.
Nou, meer as drie dekades verder
was daar dae,
en weke,
en selfs maande
dat ek jou ongedagtig was.
Maar vandag is jy hier met my.
Ek voel jou.
Ek mis jou,
en 'n tranedal dreig.
My gedagtes, my denke, my wese
dra jou nalatenskap,
net soos dié
van jou geliefde pa.