Asemrowend ontvou die vallei hier voor my.
Dig en lowerryk die woude.
Sprankelend, bruisend die vars stroom.
En as jy geduldig is en mooi kyk,
sal jy die prag van die diereryk ervaar:
klanke van die diere, van wyd oor die vlakte;
allersoortige voëls, insekte, elkeen uniek in doel.
Kon ek maar die pragskone natuurparadys
vir ewig vasvang — om my ewiglik te seën.
Somer voëltjies in volle prag,
gekoor in klank,
geveer in kleur,
nou se draers van volle uitlewing,
getrou oorgedra van geslagte tevore —
en onderliggend — die konstante: van die kwynende na die opkomende.
Luister. Die kabbelende water beken
dat nou wegvloei … om ewiglik met nuwe waters te vul:
weer, en weer, en weer.
Die lowergroen gaan verkleur in roes,
afval;
en die aarde voed
vir volgende jaar se blare.
Met die heegaan van die najaar
sal die voëls wegvlieg
en in die voorjaar — die terugkoms,
as tyd om hul kuikens te broei;
… die klanke en sprankel van voëlwees dra voort.
En die insekte — 'n lewensiklus in een seisoen.
Nou sit ek in prominente gestoeltes
as gister se baba
en môre se lyk.