… as Afrikaners
moet hul genees
oor geslagte heen van die inval,
- die Britse inval;
en nou my vriende
bied ek u «Die Inval»
sodat u hul harte beter kan verstaan.
… as Swartman en as Kleurling
moet hul ook genees oor geslagte heen
van die inval
- die Afrikaner inval;
en nou my vriende
bied ek u «Die Inval»
sodat u hul harte beter kan verstaan.
Die Inval
Die oopheid
van nabetragting
was lankal verby …
— geslote, en met obsessie,
het hulle ons diepste eie
binnegeval, ons aangeval.
Meerderwaardig
en hardvogtig arrogant
was daar geen kans
tot kalm en respekvolle beredenering nie.
«Gee oor en belei jou onderdanigheid,
of ons verbrysel jou.»
… vasklouend aan die eis tot menswaardigheid
is ons oor-en-oor traumaties vergruis,
en dit wat ons heilig koester,
met minagting vernietig.
Die Ontwonding
As Afrikaner,
sien ek nou eers die menslikheid
in my swart en in my bruin broer.
Ek besef — dis my mense,
ja, dis ons:
die oorsaak van hul verwonding.
Ek vra om verskoning,
en in skaamte en nederigheid
vra ek jou om vir my en my mense,
om vir ons te vergewe.
Jislaaik ja, ons was verkeerd.
Ek hoop
dat ons saam kan bou,
saam kan staan as bure, as landgenote,
en saam kan lag
en met humor en tederheid
wedersyds verwonderd kan staan
vir die prag in hoe ons mekaar verryk
ons kinders wedersyds koester
en as een,
die aaklige uit elkeen
van ons geledere
kan verdra
en saam te minimaliseer.
En jy, my Britse broer,
ek bid dat jy
ook sal kan sien
dat ons nog ly
onder die meerderwaardige arrogansie
van jul vadere.
Gee my jou hand,
wys jou begrip en meegevoel,
en bring die genesing van jou belydenis.
Ons wil jou vergewe,
ons wil genees.